A  review of Spy by Charles Leonard in Die Burger

Die heldeontvangs van ’n ‘superspioen’
Deur Charles Leonard 15 Mei 2017 10:21
Spy: Uncovering Craig Wil­liamson
Jonathan Ancer
JACANA, R260

In 1967 toe Craig Williamson, wat in die 1980’s beroemd of berug (afhangend van jou politiek) geword het as Suid-Afrika se “superspioen”, by die polisie aangesluit het, is niks gevaarliker as ’n pen aan hom uitgereik nie.

In daardie dae kon jy militêre diensplig vir nege maande plus ’n stapel kampe doen of vier jaar polisie toe gaan. Politiekbewuste studente wat nie die land wou verlaat het, het eerder weermag toe gegaan omdat die polisie as apartheid se stormtroepe beskou is.

Drie jaar later het lede van die kragdadige Veiligheidspolisie Wil­liamson uit die bloute vir ’n braai genooi om te gesels. Die onbeholpe, oorgewig Williamson, met sy bevoorregte agtergrond as leerling van die elite-privaatskool St. John’s College in Johannesburg, was ’n vreemde gedierte in die polisie. Maar nie vir kolonel Johann Coetzee nie. Met Williamson se wêreldbeskouing en sy agtergrond het dié hoof van die Veiligheidspolisie onmiddellik sy potensiaal as spioen raakgesien.

Twee dae ná die braai het Coetzee vir Williamson ’n pos in die Veiligheidspolisie se berugte Seksie 4 aangebied om op linkse studente te spioeneer. Agent RS 167 is gebore.

Die joernalis Jonathan Ancer se deeglik nagevorste Spy: Uncovering Craig Williamson vertel vernuftig die verhaal van sy dubbele bestaan as spioen en “vriend” van leiers op Engelse kampusse en later in die hoofkantoor van die International University Exchange Fund (IUEF), befondser van anti-apartheid-organisasies, in Genève.

Binne ’n tydperk van amper ’n dekade het die koelbloedige Wil­liamson tallose jong kamerade uitverkoop – baie van hulle is aangehou en gemartel, talle het in die tronk beland en party is dood as gevolg van sy verraad.

“Spioene verraai op minstens twee vlakke,” skryf Ancer. “Die eerste is hul geveinsde lojaliteit aan die saak van die groep wat hulle geïnfiltreer het; in Williamson se geval die Suid-Afrikaanse bevrydingstryd. Die ander een is ’n persoonlike verraad, want ’n spioen lieg en bedrieg mense wat glo dat hy ’n vriend en aan hulle kant is.”

In Januarie 1980 word Williamson se ware identiteit as spioen onthul. Een van sy mede-agente, Arthur McGiven, wat saam met hom op Wits se studenteraad in 1973-’74 gedien het, het uit die land gevlug met ’n tas vol dokumente – van hulle inkriminerend vir Williamson. Dit was nadat die Veiligheidspolisie uitgevind het dat McGiven saam met ’n man woon – iets ergs in apartheid-Suid-Afrika.

Williamson se kaartehuis het begin in duie stort. Eers het McGiven met amper die hele mandjie patats in ’n Britse koerant uitgekom. Nie lank daarna nie het The Guardian in Londen Williamson ontmasker as ’n apartheidspioen. Coetzee het sy man gaan haal – tuis het hy as “superspioen” ’n heldeontvangs gekry.

“Sy vyande vrees en bewonder hom,” het Beeld verkondig. Selfs die Engelse koerante was ewe kruiperig. Die Sunday Times het uitasem berig dat kaptein Williamson James Bond-stories na kinderspeletjies laat lyk het. Onder die vet, swart opskrif “Our man in Moscow” beweer hulle dat hy op die KGB ge­spioeneer het, maar dat hy “nooit bang was nie”.

Sy vyande was minder beïndruk. Die foto van ’n bebaarde Williamson met ’n pelshoed op die Rooi-plein wat die Sunday Times-artikel geïllustreer het, is geneem toe hy die Sowjetunie vir ’n week lank as toeris besoek het. Selfs mede-agente in die Veiligheidspolisie was nie beïndruk deur sy “super”-status nie en het die omvang van sy “prestasies” bevraagteken, skryf Ancer.

Hierna het Williamson vinnig opgang in die Veiligheidspolisie gemaak – in die volgende paar jaar is hy gebruik as die Veiligheidspolisie se hoofondervraer. By verskeie politieke vertoonverhore van wit aktiviste is hy as die staat se kenner oor die ANC voorgehou.

Dis egter sy oorgang van “superspioen” tot briefbommoordenaar wat my gefassineer het. Dis hier waar Ancer se skryfvernuf my veral vasgenael gehad het. In 1991 het ek bevriend geraak met die oud-Matie en ANC-lid Marius Schoon toe hy van ballingskap teruggekeer het.

DIS EGTER SY OORGANG VAN “SUPERSPIOEN” TOT BRIEFBOM-MOORDENAAR WAT MY GEFASSINEER HET.
Gedurende die vryheidstryd het Schoon en sy gesin in Angola gewoon. Hy was in Luanda toe sy vrou, Jenny, en hul sesjarige dogtertjie, Katryn, in hul woonstel in Lubango, Angola, op 28 Junie 1984 aan flarde deur ’n briefbom geskiet is. Hul seuntjie, Fritz (2), was buite die woonstel en fisiek ongedeerd. Hoewel hulle ANC-lede was, het die Schoons in daardie stadium as Engels-onderwysers by die plaaslike universiteit gewerk.

In 1995 maak Williamson uit die bloute ’n skokbekentenis dat sy afdeling van die Veiligheidspolisie verantwoordelik was vir die briefbomme wat die Schoons en Ruth First in Mosambiek se lewens geëis het. Marius loods ’n sivieleskade-eis van R2 miljoen namens Fritz teen Williamson as vergoeding vir skok en sy verlies aan ondersteuning en terapieonkoste. Net voor die geding sou begin, dui Williamson aan dat hy om amnestie by die Waarheids-en-Versoeningskommissie aansoek gaan doen en die geregtelike stappe word toe tydelik gestaak.

Gedurende die amnestieverhoor in 1998 stuur Williamson sy prokureur om Marius vir ’n bier saam met Williamson te nooi. Marius was woedend – dít nadat hy sy vrou en sesjarige dogtertjie vermoor het. Marius het die prokureur aangesê om te “fokof”, vertel sy tweede vrou, Sherry McLean, aan Ancer. Soos Ancer dit beskryf: “Williamson het nie na die WVK gekom om vergifnis te vra nie, maar om te rasionaliseer wat hy gedoen het . . .”

Marius het toe reeds aan longkanker gely. Agt maande ná sy dood op 7 Februarie 1999 het Wil­liamson en sy samesweerders amnestie vir die dood van die Schoons en First ontvang. McLean het aan Ancer gesê: “Marius het nie geleef om te hoor dat Williamson amnestie toegestaan is nie. Dank God.”

Charles Leonard is kunsredakteur by The Conversation Africa.

Advertisements

About Jonathan Ancer

I'm a journalist, cryptic crossword junkie, keen cyclist, Billy Bunter book collector and a Billy Bragg stalker. I love words and will post some of the columns I have written over the years on this blog. They include: View from the G-spot (my time as editor of a community newspaper in Grahamstown), Virgin Cyclist (the build up to my first Argus Cycle Tour), Pop psychology (my take on fatherhood) and Angry Utterances (10) (how crossword puzzles unlock the world's secrets and the meaning of life). Since leaving Independent Newspapers in September 2014 I have started freelancing and write a column for the Witness - The Diary of a Bumbling Hack. I've also become a podcast junkie and have produced a podcast biography series called Extraordinary Lives. Let me know what you think.
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s